Agripen Junie | Julie 2019

Agripen Junie | Julie 2019

Ons dink in herhinnering aan Marlene Smith

Die tragiese afsterwe van jarelange lid en oud-bestuurslid van die Sentrale Streek, oud-Landbouweekbladjoernalis Marleen Smith (47), laat ’n groot leemte in die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap. “Ons gaan haar baie mis; haar kennis, insig en passie vir landbou was ongeëwenaard. Sy het nooit onvoorbereid na ’n onderhoud toe gekom nie,” sê mnr.

Eddie Prinsloo, bekende Vrystaatse boer en voormalige Nasionale Boer van die Jaar, van die Heuningkrans-Merinostoetery op Smithfield. Eddie onthou Marleen as ’n buitengewone landboujoernalis wat berigte van hoogstaande gehalte gelewer het en as ’n liefdevolle ma vir haar dogter, Mia (18), ’n matriekleerling aan die Hoër Meisieskool Oranje, en seun, Alwyn(13), in gr. 7 aan die Laerskool Universitas in Bloemfontein.

Charles Smith, voormalige voorsitter van die Sentrale Streek en Marleen se eksman en Volksblad en Netwerk24 se nuushoof in Bloemfontein, sê haar dood was vir hom en hul kinders ’n geweldige skok. “Mia en Alwyn het ’n baie liefdevolle ma en sielsgenoot verloor in ’n stadium dat hulle haar baie nodig het. Marleen was op hoogte van wat orals in die wêreld rondom bewaringsboerdery gebeur.”

Volgens Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, was Marleen ’n besonderse joernalis wat belangrike werk gedoen het om  herlewingslandbou en grondgesondheid te bevorder. “Sy was toegewyd, ’n bate vir die landbou en ’n goeie vriend. Ek is platgeslaan, dit voel onwerklik en ek kan my nie die landboujoernalistiek sonder haar indink nie.”

Marleen was passievol oor die bewaring van die omgewing en het ook haar meestersgraad in volhoubare landbou met lof aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Haar studieleier, dr. Kobus Laubscher, sê dit was ’n vir hom ’n voorreg. “Sy was krities, op die punt af, gedissiplineerd, ingelig, altyd geluister, betrokke, sag, jy kon na haar luister en sy het jou altyd goed laat voel. Sy kon die goue draad identifiseer en ’n saak uitkam tot waar dit saak maak. As sy van jou verskil het, het jy nooit gedink sy sien haar as beter nie – al was sy reg. Ons sal haar stil teenwoordigheid mis.”

Johan Norval, haar jare lange kollega by Landbouweekblad in Bloemfontein, sê: “Die Marleen wat ek as ’n nooi Jordaan in my verslaggewingsdae by die SAUK op ’n rit deur Zimbabwe en Zambië leer ken het, is dieselfde een wat tot die einde geen kwaadwilligheid in haar mondering gehad het nie.

“Haar meelewing met ander mense was dalk haar swak punt, want sy het haarself eerder benadeel in ’n poging om haar medemens te help. Sy kon daarin slaag om ongekunsteld en ongestoord met alle mense te meng.” Sy het haar loopbaan in 1994 as joernalis by Volksblad begin nadat sy ’n BA-graad in politieke wetenskap aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom behaal het. Marleen het ook voorheen vir Farmer’s Weekly asook die nuusagentskap Sapa gewerk, waar baie van haar berigte in Mail & Guardian verskyn het. Marleen se afsterwe word ook deur ons almal as lede van die Landbouskrywers SA betreur. Ons dink in medelye aan haar gesin, familie en vriende in hierdie hartseer tyd.

Klik hier om die volle Agripen Junie/Julie 2019 weergawe te lees.

Archives

Categories