Agripen Oktober 2019

Agripen Oktober 2019

Voorsitter en Ondervoorsitter van die Landbouskrywers Suid-Afrika

 

Liza Bohlmann en Alani Janeke is aan die einde van 2018 as die voorsitter en onder-voorsitter van die Landbouskrywers Suid-Afrika verkies. Die twee het mekaar onderhoude gevoer om te hoor hoekom hulle by die organisasie betrokke is:

Liza Bohlmann is die hoof van spesiale projekte by Landbouweekblad. Sy skryf vir die afgelope 12 jaar al met groot passie oor landbou. Voor sy by Landbouweekblad se span aangesluit het was sy eers joernalis en later redakteur van The Dairy Mail. Vóór TDM het sy by gemeenskapskoerante in Gauteng, Mpumalanga en Limpopo gewerk as joernalis.

Hierdie dinamiese vrou is al skertsend in die landboubedryf die hoofmeisie van landbou genoem, en sy mis nie die kans om ’n foto van dit wat vir haar in die platteland mooi is te neem nie. Sy is in November verkies tot voorsitter van die Landbouskrywers Suid-Afrika. Sy dien ook tans as streeksondervoorsitter van Landbouskrywers Noord.

Jy is reeds ’n geruime tyd al by Landbouskrywers betrokke – vertel ons hoekom jy aangesluit het en wat dit vir jou beteken het die afgelope paar jaar?

Ek is so half gedwing/aangepor deur my redakteur by The Dairy Mail, want ek neem aan sy het gesien daar is ingryping nodig! Wyle Joël Kotze het my aan Magda du Toit (voormalige voorsitter) voorgestel tydens my eerste Nampo. Ek het toe nog regtig net mooi niks van die landbou of die nisbedryf van melkproduksie geweet nie.

Die verskillende uitstappies, bedryfsbesoeke, seminare en skakelgeleenthede wat die Landbouskrywers direk of indirek by betrokke was het my baie vinnig baie goeie blootstelling aan die groter landbouprentjie gegee. Die waardevolste, veral in daai beginjare van my tyd by TDM, was die hulp en kennis wat ander lede aangebied het. As jy ‘n wenk, kontakpersoon en soms foto’s en inligting benodig het, was daar altyd iemand wat bereid was om te help. As landboujoernaliste is ons taak immers ook om boere op hul plase te hou deur hulle met goeie, betroubare inligting te bedien. Dit is daarom lekker om deel te wees van ‘n professionele groep soos die Landbouskrywers wat mededinging in die mediasektor op sy kan skuif om eerstens aan die groter prentjie aandag te skenk.

Watter tipe blootstelling aan internasionale joernaliste en landboujoernalistiek het die Landbouskrywers al vir jou gebied?

In 2010 was ek een van 10 internasionale wenners van die Alltech Young Leaders kompetisie wat na die IFAJ se jaarlikse kongres en prysuitdeling genooi is. Dit was ’n groot ding vir iemand wat maar net so half toevallig in landboujoernalistiek beland het. Ná hierdie toekenning en geleentheid om met gesoute én ander jong landboujoernaliste te reis, te leer en natuurlik te kuier, het die wêreld van landboujoernalistiek vir my nog verder onthul. Ek het besluit om my sokkies op te trek en werklik daarop te fokus om my tegniese kennis uit te brei. ’n Paar jaar later is ek vir die IFAJ kongres na Swede danksy ’n borgskap. Ons het tydens die kongres se plaasbesoeke byvoorbeeld die navorsing en ontwikkelingsaanlegte van maatskappye soos De Laval besoek. Jy kon my net sowel na NASA se R&D-aanleg vat – dit was ongelooflik indrukwekkend en interessant om tegnologie te sien wat nog jare van kommersiële vrystelling is. Besoeke aan veral Nederland en Duitsland het hierna toegeneem juis omdat ek vriende met ander joernaliste vanoor die wêreld heen gemaak het en ook met verteenwoordigers van maatskappye kon skakel. Met elke besoek, plaaslik of oorsee, leer jy meer oor die landbou, mense en jouself. What is not to love?

Wat bied dié organisasie jou wat jy nie elders kan kry nie?

Jy sal baie hard moet werk om dieselfde mense te ontmoet en dieselfde mediavriendelike besoeke aan plase, aanlegte en instansies te laat realiseer sonder die Landbouskrywers. Dit is natuurlik nie onmoontlik om buite die organisasie hierdie skakelgeleethede op jou eie te bewerkstellig nie, maar vir my is dit lekker om die voordele van samewerking, vennootskappe en vriendskappe binne die Landbouskrywers te geniet. Organisasies is nie vir almal nie, maar vir my is die gemeenskap binne die Landbouskrywers ’n vriendelike en veilige plek om my loopbaan te verryk binne beroepsverband.

Alani Janeke is sedert 2006 ’n joernalis, na sy in haar honneursgraadjaar by OFM se span kon aansluit as bulletinskrywer. Die landboujoernalistiekgogga het haar gebyt toe die landbou-beat deel van haar werk geword het “omdat ek tydens ’n redaksievergadering die verskil tussen ’n Holstein en Jersey geken het.” In 2009 het sy in Pretoria as joernalis by Landbou.com se span aangesluit. In 2014 het sy na Bloemfontein verhuis waar sy as joernalis en mediabeampte by Vrystaat Landbou gewerk het. Die afgelope twee jaar is sy weer deel van die Landbouweekblad-familie as redakteur van Landbou.com. Haar deelname en bydrae tot die Landbouskrywers SA het begin as ’n lid en later bestuurslid van Landbouskrywers Noord. In 2015 het sy voorsitter van die Landbouskrywers Sentraal geword na haar skuif na Bloemfontein. Tans dien sy as bestuurslid van die Landbouskrywers !Xhariep-streek, en einde verlede jaar is sy herkies as ondervoorsitter van die Landbouskrywers Suid-Afrika se nasionale bestuur.

Hoe het die Landbouskrywers en sy bedrywighede in Suid-Afrika jou loopbaan verryk?

Tong-in-kies wil ek graag sê dat my pa, Chris, dankbaar is vir my blootstelling aan die vereniging, aangesien ek na die eerste Absa Pinotage wyntoer wat ek weens die vereniging kon meemaak nou sy liefde vir wyn deel.

Dit het my ook in staat gestel om met verskeie persone in die bedryf te skakel en om waardevolle kontakte te leer ken.

Op ’n meer persoonlike vlak is dit altyd ’n riem onder die hart om boere en landboukundiges se waardering en opgewondenheid te sien wanneer mens hulle kontak met ’n benoemingsversoek en bystaan om die benoeming saam te stel.

Jy was ook a die wenner van die International Federation of Agricultural Journalists (IFAJ) se Alltech Young Leaders Award. Wat het die toekenning behels en vir jou beteken?

Die toekenning se prys het ingesluit die bywoning van die IFAJ se internasionale kongres wat in 2017 in Suid-Afrika aangebied is, sowel as bywoning van die sessies vir die groep twee dae voor die kongres aangebied is.

Dit het regtig my horisonne verbreed om met landbou joernaliste van sowat 150 lande in kontak te kom en om met die IFAJ se bestuurslede te skakel. Dit was ’n voorreg om meer oor die geskiedenis van die organisasie te leer en om blootgestel te word aan die omvang van die organisasie wêreldwyd. Ek kon sedertdien al ’n hele paar kollegas van ander publikasies help met stories en kontakte in Suid-Afrika.

Hoekom behoort iemand in landboumedia by die Landbouskrywers aan te sluit en wat is jou visie vir die organisasie?

Ek dink aan drie woorde as antwoord…blootstelling, blootstelling en blootstelling… Okay, dis eintlik een woord, maar dis hoe belangrik ek dit ag. Jy kry nie net blootstelling aan ’n verskeidenheid kontakte in die bedryf nie, maar ook aan ander ‘woordenaars’ in die bedryf.

Verder stel dit jou ook bloot aan funksies en reëlings wat jou ook in die werkplek kan help.

Ek raak opgewonde oor die Suid-Afrikaanse gilde se toekoms, as ek terugkyk op die afgelope 42 jaar se geskiedenis wat saam met ons kom en terselfdetyd dink aan die groter landboufamilie van wie ons deel vorm.

Klik hier om die volle Agripen Oktober 2019 weergawe te lees.

Archives

Categories