| MEER OOR DIE VERENIGING
Die vereniging is ‘n onafhanklike professionele liggaam
sonder winsbejag, wat die beeld en gehalte van landboujoernalistiek
in Suid-Afrika bevorder.
Dit is in 1977 in Pretoria gestig. Lede van die vereniging is
verteenwoordigend van alle joernaliste wat die landboubedryf
bedien deur middel van tydskrifte, koerante,
die radio en televisie. Beperkte lidmaatskap word ook aan
vriende van die landboumedia verleen.
Dit bly egter in die eerste plek ‘n liggaam wat deur joernaliste
vir joernaliste bedryf word.
DOELSTELLINGS
- Om sake van gemeenskaplike belang vir lede te behartig.
- Om die status en gehalte van landbou-joernalistiek tot
die hoogste vlak te help bevorder en te handhaaf.
- Om geld vir hierdie doel in te samel.
- Om kandidate vir die toekennings van Boer en
Landboukundige van die Jaar te benoem en te kies.
- Om die vryheid van die pers te steun en uit te bou.
- Om kontak met landboujoernaliste en hul organisasies
in ander lande te bewerkstellig en uit te bou.
- Onpartydigheid in sake rakende die politiek en godsdiens.
- Om noue kontak met ander instansies wat die landbou
bedien, te bewerkstellig.
- Om beter begrip te bewerkstellig oor die rol van die
landbou in die gemeenskap.
- Om jaarliks kompetisies te reël om erkenning te gee
aan die landboujoernalistiek en -fotografie.
HOE BEREIK ONS DIT?
Die vereniging vergader jaarliks om sake
van gemeenskaplike belang te bespreek,
sy nasionale toekennings te maak en ‘n
nasionale voorsitter, ondervoorsitter,
sekretaris en penningmeester te kies.
Saam met die voorsitters van die onderskeie
streektakke vorm die vier ampsdraers
die nasionale uitvoerende bestuur.
Die bestuur vergader minstens twee maal
per jaar om uitvoering te gee aan die
besluite van die jaarvergadering, finansies
te hanteer en die optrede van sy
dagbestuur te bekragtig. Nuusbriewe dien
as skakel tussen die lede en die vereniging.
Takke reël hul eie sake, maar raadpleeg
die nasionale uitvoerende bestuur i.v.m.
sake van gemeenskaplike belang. Die
onderskeie takke sorg vir hul eie borge,
maar borgskappe word op nasionale vlak
gereël vir die jaarlikse toekennings,
befondsing van die nasionale bestuur en
bystand aan takke.
Die internasionale verteenwoordiger
behou kontak met landboujoernaliste en
verenigings oorsee, onder meer deur korrespondensie
en verteenwoordiging by
internasionale byeenkomste, soos die
wêreldkongres van die IFAJ (International
Federation of Agricultural Journalists).
Landbouleiers en ander kundiges spreek
takke gereeld toe i.v.m. landbousake. ‘n
Boer en Landboukundige word jaarliks in
elke streek volgens streng kriteria
aangewys en plaaslik deur hulle vereer. ‘n
Onafhanklike paneel van beoordelaars
kies dan uit die kandidate die nasionale
wenner wat op ‘n dinee in een van die
groot sentra vereer word.
HOE DIEN ONS DIE LANDBOU?
Die vereniging probeer om binne die
raamwerk van ‘n vrye en onafhanklike pers
‘n opbouende en verantwoordelike benadering
tot die landbou by sy lede te
kweek. Die bevordering van die landbou
deur ondernemende en ondersoekende
joernalistiek en ‘n beter verstandhouding
tussen die boer en die verbruiker word as
breë ideale gestel.
|