| NUUSVERKLARING
Landboubesigheid soek oplossings vir voedselpryskrisis
6 Junie 2008
"By die pas afgelope Landboubesigheidskamer (LBK) se kongres, het landboubesighede die tema van "Mobilisering van landboubesigheid vir groei" sterk aangegryp. Gegewe die enorme voedselpryskrisis wat tans beide in die wêreld en in Suid-Afrika ervaar word, moet die bedryf en die regering oplossings ontwikkel en implementeer wat die kernoorsake van die probleem aanspreek", het dr John Purchase, Bedryfshoof van die LBK gesê.
Dit is bemoedigend om te verneem dat mnr Jacob Zuma en Minister Trevor Manuel, volgens 'n Media 24-berig, aangedui het dat die snel stygende ru-olieprys aan die kern van die probleem lê. Terwyl vraag en aanbod-kwessies, onder andere veroorsaak deur verwronge landbouhandel en beskermingsbeleide, ook beduidend impakteer, ondersteun die LBK die siening dat die kwessies van prysvormingmeganismes en kartelvorming deur OPEC-lande die kern van die probleem vorm.
"Tensy hierdie kwessies nie effektief op 'n multilaterale basis aangespreek word nie, sal die krisis nog verder verdiep, ook as gevolg van die direkte invloed wat die petro-chemiese bedryf op kunsmis- en onkruid-/plaagdoderpryse het. Skielike massa of versnelde voedselproduksie sal nie die antwoord wees nie as dit nie winsgewend en die risiko dit werd is om te produseer nie, in aggenome dat insetkostes vir stapelvoedselproduksie met tussen 50% en 100% vir die volgende seisoen gaan styg. Dit is die risiko wat ons in die gesig staar", aldus dr Purchase.
Die addisionele risiko in Suid-Afrika van nuwe drakoniese onteieningswetgewing lê ook swaar op die gemoed van die kommersiële landbousektor. As die Regering nie drasties sy armoedeverligtingsbeleid hersien nie, sal daar geen vertroue in die sektor wees vir boere en entrepreneurs om in hierdie kritiese sektor te belê nie, wat verder voedselsekuriteit op risiko sal plaas.
By die onlangse Presidensiële Werksgroep vir Landbou-vergadering (20 Mei 2008) het die Voorsitter van die LBK, mnr Corwyn Botha, dit beklemtoon dat 'n positiewe beleggingsomgewing in die landbou krities noodsaaklik is en het hy 'n beroep op President Mbeki gedoen om die kommersiële landbousektor die nodige versekering in die verband te gee.
Navrae: Dr J L Purchase, Bestuurshoof: LBK 012 300 9502/082 441 2308
|