Bestes in die Suid-Afrikaanse landbou deur Landbouskrywers SA aangewys

11 November 2011 - Die bestes in die Suid-Afrikaanse landbou is Vrydagaand op 'n spoggeleentheid naby die Paarl, Wes-Kaap, deur Landbouskrywers SA aangewys.

'n Boer van Wakkerstroom, Mpumalanga, het met die louere as Boer van die Jaar weggestap, 'n groep boere van Napier is as die beste nuwe toetreder tot die kommersiële landbou bekroon en 'n professor van die Noordwes-universiteit is die Landboukundige van die Jaar.

Die prestigeryke geleentheid is deur Absa AgriBesigheid, Santam Landbou en John Deere Financial geborg. Landbouskrywers SA bied die kompetisie vir kommersiële boere, nuwe toetreders tot die kommersiële landbou en landboukundiges sedert 1977 aan.

Boer van die Jaar

Mnr. BP Greyling van Wakkerstroom is die nuutste lid van die Pro-Agri Forum, 'n verteenwoordigende liggaam van voormalige wenners van dié prestigeryke kompetisie wat gereeld met belangrike besluitnemers in die Regering en die private sektor oor kommersiële boere se belange vergader.

Sy passie is die produksie van genetiese fynwol. Hy het vanjaar saam met sy pa 'n Suid-Afrikaanse rekordprys van R250 000 vir 'n Merinoram met superfynwol betaal. Daarmee wil hy die boerdery se wolskeersel nog fyner teel.

BP het in die sewe jaar sedert hy in 2004 alleen begin boer het, sy boerdery drasties uitgebrei.

In 2004 het hy op 12 672 hektaar met 11 000 skape en 3 500 beeste geboer. Vandag besit hy 17 493 hektaar en huur nog 4 500 hektaar by. Sy beesgetalle het tot 5 769 toegeneem en sy skaapgetalle is tot 'n kudde van 21 200 vermeerder ? alles sy boerdery se eie aanteel.

Hy het ook daarin geslaag om die onaanvaarbare hoë vlakke van misdaad in die omgewing en in die boerdery met 'n weldeurdagte teen-misdaadplan te verminder.

Hy verbou ook mielies en sojabone op droëland, gesertifiseerde raaigrassaad en groenvoer onder besproeiing.

Nuwe toetreders tot die kommersiële landbou

Die Agri Dwala-trust bestaan uit 29 begunstigdes (wat 15 huishoudings verteenwoordig). Nie slegs een persoon word in die boerdery bemagtig om tot die vlak van 'n kommersiële boer te vorder nie, maar soveel moontlik mense word daarby te betrek en so word 'n wesenlike verskil aan die gemeenskap gemaak.

Die trust het in 2006 op 640 ha huurgrond begin boer en vandag boer hulle op 1 540 ha met vleisbeeste, skape, wintergraan en lusern.

Die plase word as deel van 'n geheel bestuur. In die graanvertakking word koring, gars, hawer, kanola en lupine verbou. Die groep gebruik die nuutste plantertegnologie om gewasse mee te plant. Die vleisbeeskuddde is in Junie 2006 saamgestel uit die beeste en die koeie waarmee die begunstigdes op hul erwe in die dorp geboer het. Vandag spog die groep met 169 puik vleisraskoeie. Die begunstides leer om hul sukses te deel deur jaarliks 'n tiende van hul dividende aan 'n welsynsinstansie van hul keuse op die dorp Napier te skenk. So word die sukses van die projek as 'n rimpel-effek in die gemeenskap gevoel en baat soveel meer mense daarby. Hulle vind groot vreugde en persoonlike prestasie daarin om te kan teruggee aan hul gemeenskap en leer om sukses te deel.

Landboukundige van die Jaar

Prof. Herman van Schalkwyk is een van die land se mees vooraanstaande landbou-ekonome wat hom al op verskeie gebiede onderskei het.

Hy is verlede jaar aangestel as rektor van die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit (NWU).

As besturende direkteur van Aginfo (handeldrywend as AMT) koördineer hy 'n groep individue wat daarna streef om betroubare markinligting aan kliënte te verskaf. AMT verskaf al langer as 12 jaar markinligting oor die meeste kommoditeite aan kliënte en bied ook al vir 11 jaar die jaarlikse landbou-vooruitskouingskonferensie aan.

Van Schalkwyk het ongeveer 70 artikels in wetenskaplike tydskrifte en 117 navorsings- en projekverslae gepubliseer. Hy het ook 75 referate op plaaslike konferensies en 38 op internasionale konferensies gelewer. Voorts was hy promotor en/of medepromotor vir 24 doktorale studente en studieleier of mede-studieleier vir 32 meestersgraadstudente.

Hy is in 2007 deur die Minister van Landbou as lid van die Nasionale Landboubemarkingsraad aangestel en in 2008 as die ondervoorsitter van die raad van die Landbank. Van Schalkwyk is 'n konsultant vir die Wêreldbank asook 'n spesialis in landbou- en verwante hofsake.

Hy is 'n gewilde spreker en gas op landboukongresse. Hy lewer ook die afgelope jaar 'n weeklikse bydrae op OFM met Pieter Möller oor aktuele sake in die landbou.


Alison Sutherland en Kobus Lindeque, Area lead Monsanto Africa and Magda du Toit, Voorsitter, Landbouskrywers SA


Magda du Toit, Voorsitter, Landbouskrywers SA, Pieter Mulder, Adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye en sy vrou Treina


Martie en Ernst Janovsky - ABSA Agribesigheid

Prof Herman van Schalkwyk, Rektor Noordwes Universiteit - Landboukundige van die Jaar vir 2011 en Hein Mienie - John Deere Financial


Jane Plaatjies, verteenwoordiger van Agri Dwala-trust - Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou vir 2011 en Ernst Janovsky ABSA Agribesigheid


BP Greyling van Wakkerstroom in Mpumalanga - Boer van die Jaar vir 2011 en Tobias Doyer van Santam Agribesigheid

Adele Engelbrecht, Voorsitter Landbouskrywers SA Weskaap, Hein Vollgraaff van BKB en Johan Norval - fotograaf van die jaar


Lindi van Rooyen - Santam Landbou/Agirsecuritas Joenalis van die Jaar vir 2011 en Japie Grobler van Agri Securitas


Kobus Lindeque en Magda du Toit van Monsanto en Charl van Rooyen - wenner van die Monsanto Landbouskrywers SA tegniese artikelwedstryd vir 2011

Adele Engelbrecht, Voorsitter Landbouskrywers SA Weskaap oorhandig 'n oorkonde aan Reg Weis


Magda du Toit, Voorsitter, Landbouskrywers SA en Agri Dwala groep

 

Proagri forum