CONSTITUTION / GRONDWET

Only available in Afrikaans

(Soos gewysig en gekonsolideer 2005)

1. NAAM VAN DIE VERENIGING

Die naam van die Vereniging sal Landbouskrywers SA wees.

2. OMSKRYWING EN VERTOLKING

2.1 In hierdie Grondwet sal die volgende woorde die betekenis hê soos daaraan gevoeg, tensy daar iets teenstrydig in die onderwerp of konteks is. Woorde wat enkelvoud aandui, sal ook die meervoud insluit en verwysings na die manlike ge-slag, sluit ook die vroulike geslag in.

2.2 VERENIGING bedoel die Landbouskrywers SA.

2.3 UITVOERENDE BESTUUR bedoel dié lede van die Vereniging wat verkies, aangestel of benoem is as die Nasionale Uitvoerende Bestuur kragtens hierdie Grondwet.

2.4 LEDE bedoel daardie persone wat in die landboujoernalistiek spesialiseer in al die media (pers, radio en televisie) wat kragtens hierdie Grondwet as lede van die Vereniging aanvaar is.

2.5 BESTUUR bedoel ‘n bestuur wat deur ‘n erkende streektak van die Vereniging verkies is.

2.6 BESLISSING bedoel besluite wat deur die Uitvoerende Bestuur of ‘n Bestuur geneem is - onderworpe aan goedkeuring van die Uitvoerende Bestuur.

2.7 HUISHOUDELIKE REGLEMENT bedoel huishoudelike reëls met die doel om sekere aspekte van hierdie Grondwet meer volledig te omskryf. Die afkorting HR gevolg deur ‘n nommer, word as verwysing gebruik.

3. DOELSTELLINGS

Die doelstellings van die Vereniging is:

3.1 Om die belange van lede te bevorder en te beskerm

3.2 Om fondse te verkry ten einde die doelstellings van die Vereniging te bevorder.

3.3 Om jaarliks persone vir die Vereniging se toekennings te nomineer en te kies in ooreenstemming met die vereistes deur die Uitvoerende Bestuur neergelê.

3.4 Om die vryheid van die pers te steun en uit te bou.

3.5 Om kontak met landboujoernaliste en hul organisasies in ander lande te bewerkstelling en te handhaaf.

3.6 Om die gehalte van landboujoernalistiek tot die hoogste peil te help bevorder en te handhaaf.

4. MAGTE EN REGTE

4.1 Onderworpe aan die bepalings van sy Grondwet, sal die Vereniging die magte hê om op te tree binne die raamwerk van hierdie bepalings en soos deur die Wet aan organisasies van hierdie aard verleen, in ooreenstemming met die belange en doelstellings van die Vereniging.

4.2 Die Uitvoerende Bestuur sal enige besluit neem of optrede magtig wat volgens sy oordeel die doelstellings en belange van die Vereniging bevorder en beskerm.

5. LIDMAATSKAP

5.1 Alle persone wat in die landboujoernalistiek spesialiseer kan lede van die Vereniging word. Aansoeke (op die eenvorminge lidmaatskapvorm) moet aan die takvoorsitter van die streek waarin die aansoeker woonagtig is, gerig word en die tak sal daarop reageer in terme van hierdie Grondwet; en alleenlik in gevalle van onsekerheid sal aansoeke na die Uitvoerende Bestuur verwys word vir oorweging. Die beslissing van die Uitvoerende Bestuur sal finaal en bindend wees. (HR 3).

5.2 Die vereniging sal bestaan uit vier kategorieë van lede, nl VOLLE LEDE, ASSOSIAATLEDE, ERELEDE EN LEWENSLANGE LEDE EN ERE-PRESIDENTE.

5.3 VOLLE LEDE Alle joernaliste wat spesialiseer in die skryf van artikels en berigte of die saamstel van radio/oudiovisuele programme, of die beplanning/uitvoering van kommunikasie- aksies ter bevordering van die Vereniging se doelstellings rakende landbou- aangeleenthede, -bedrywe en -produkte.

5.4 ASSOSIAATLEDE Alle persone wat hulle met die Vereniging se doelstellings vereenselwig, maar nie onder voorgenoemde om lidmaatskap kwalifiseer nie, kan na goeddunke van die betrokke besture assosiaatlidmaatskap ontvang. Sulke lede kan deelneem aan aktiwiteite van die Vereniging, maar het nie stemreg nie.

5.5 ERELEDE Die Uitvoerende Bestuur kan enige persoon vir enige tydperk as erelid benoem. Erelede sal nie stemreg hê nie, maar kan vergaderings bywoon en daaraan deelneem. Van sulke erelede sal geen geldelike bydraes verwag word nie.

5.6 LEWENSLANGE LEDE Enige lid kan tot lewenslange lid deur die Uitvoerende Bestuur benoem word. (HR 4)

6. LEDEGELDE

6.1 Ledegeld, indien enige, sal deur die Uitvoerende Bestuur bepaal en deur ‘n Algemene Vergadering van die Vereniging bekragtig word. Ledegeld sal nie later as die einde van Junie elke jaar betaalbaar wees aan die administratiewe amptenaar van die Uitvoerende Bestuur.

6.2 Slegs lede wat in goeie stand is in die vereffening van hul ledegeld en ander verpligtinge teenoor die Vereniging, sal tot die Uitvoerende Bestuur verkies word en sal stemreg hê op die Jaarlikse of Algemene Vergaderings wat deur die Uitvoerende Bestuur of die Vereniging belê word.

6.3 Enige lid wat in gebreke bly om sy ledegeld binne drie maande na kennisgewing deur die sekretaris/tesourier te vereffen, sal as lid van die Vereniging geskors word, totdat sodanige betaling gemaak is.

6.4 Die Uitvoerende Bestuur kan enige lid van betaling van ledegeld kwytskeld.

7. BEËINDIGING VAN LIDMAATSKAP

7.1 Enige lid kan uit die Vereniging bedank deur een maand se skriftelike kennisgewing. Dit sal egter slegs in werking tree nadat sodanige lid sy verpligtinge ten opsigte van sy lidmaatskap nagekom het.

7.2 Die Uitvoerende Bestuur kan ‘n besluit oor die beëindiging van lidmaatskap neem, mits twee-derdes van die bestuurslede op sodanige vergadering teenwoordig en geregtig is om te stem. Enige lid wat die Grondwet skend of die reëls van die Vereniging verontagsaam, of wat volgens die Uitvoerende Bestuur die Vereniging oneer aandoen of hom skuldig gemaak het aan afwyking van die doelstellings van die Vereniging, kan geskors word.

7.3 Geen stappe vir die skorsing van ‘n lid sal geneem word alvorens hy nie per geregistreerde brief daarvan kennis gegee is nie, minstens dertig dae voor die vergadering waarop hy volgens versoek teenwoordig kan wees, hetsy in persoon of as hy so verkies, deur ‘n behoorlike gemagtigde verteenwoordiger.

7.4 Enige lid wat geskors is, moet binne sewe dae na skorsing skriftelik deur die sekretari/tesourier daarvan in kennis gestel word.

7.5 ‘n Lid wat om enige rede opgehou het om lid van die Vereniging te wees, kan op aansoek weer as lid toegelaat word, mits hy hom onderwerp aan die voorwaardes wat deur die Uitvoerende Bestuur neergelê word.

8. REGISTER VAN LEDE

Die sekretaris/tesourier sal ‘n register van lede hou wat hulle adresse en die publikasies of media waaraan hulle verbonde is, aangee. (HR 4).

9. UITVOERENDE BESTUUR

9.1 Die sake van die Vereniging sal behartig word deur die Uitvoerende Bestuur, bestaande uit lede wat benoem is deur takke, een lid per tak, tesame met die Nasionale Voorsitter, -Ondervoorsitter en -Sekretaris/Tesourier

9.2 Die Algemene Jaarvergadering sal ‘n Nasionale Voorsitter, -Ondervoorsitter en -Sekretaris/Tesourier vir die jaar kies. Verkiesing in hierdie drie poste geskied per meederheidstem onderhewig aan 14.7

9.3 Die Uitvoerende Bestuur kan ‘n persoon wat deur die borg/e as lid van die bestuur benoem word, koöpteer om die borg/e te verteenwoordig.

9.4 Uitvoerende Bestuurslede word vir ‘n tydperk van een jaar verkies, maar kan herkies word.

9.5 Indien daar ‘n vakature in die Uitvoerende Bestuur ontstaan, sal die Bestuur enige lid van die Vereniging as lid koöpteer om te dien totdat die volgende Algemene Jaarvergadering plaasvind. So ‘n gekoöpteerde lid sal stemreg in die Uitvoerende Bestuur hê.

9.6 ‘n Lid van die Uitvoerende Bestuur sal sy amp beëindig as hy tydens meer as drie opeenvolgende Uitvoerende Bestuurs-vergaderings sonder spesiale verlof afwesig is.

9.7 Alle bona fide optrede van die Uitvoerende Bestuur sal ten alle tye geldig wees.

10. UITVOERENDE BESTUURSVERGADERINGS

10.1 Die Uitvoerende Bestuur sal indien moontlik, minstens drie keer per jaar vergader met die oogmerk om sake van die Vereniging te bespreek.

10.2 ‘n DAGBESTUUR, bestaande uit die Voorsitter, Ondervoorsitter en Sekretaris/ Tesourier, met regte om te koöpteer, sal gedurig aandag aan dringende daaglikse aangeleenthede van die Vereniging skenk, met dié voorsorg dat alle beslissings van die Dagbestuur na die volgende vergadering van die Uitvoerende Bestuur vir bekragtiging verwys word.

10.3 Daar sal ‘n kworum wees as 50% plus een lid van die Uitvoerende Bestuur vergaderings bywoon.

10.4 Die Voorsitter sal alle vergaderings lei. In sy afwesigheid sal die Ondervoorsitter as voorsitter optree. In die afwesigheid van albei, sal die ander lede van die Uitvoerende Bestuur ‘n waarnemende voorsitter uit eie geledere kies.

10.5 Notules van die Uitvoerende Bestuursvergadering sal gehou word en op die daaropvolgende Uitvoerende Bestuursvergadering bekragtig word.

10.6 Verkose, benoemde of gekoöpteerde Uitvoerende Bestuurslede kragtens klousule 9 sal stemreg op die Uitvoerende Bestuursvergaderings hê.

10.7 Elke lid van die Uitvoerende Bestuur sal een stem hê. Die voorsitter sal ‘n stem kan uitbring, maar hy sal geen beslissende stem hê nie.

11. PLIGTE EN MAGTE VAN DIE UITVOERENDE BESTUUR

11.1 Alle bates van die Vereniging te beheer en te administreer en beslag te lê op bates van takke in geval van ontbindings en/of wanbestuur en dit na oorlegpleging met die betrokke borge, na goeddunke aan te wend;

11.2 Spesiale- en Algemene Jaarvergadrings te belê.

11.3 Enige regstappe deur of teen die Vereniging en/of sy ampsdraers te neem en te verdedig;

11.4 Regulasies of huishoudelike reglemente wat nie teenstrydig met die Vereniging se doelstellings is nie, op te stel;

11.5 Geskille wat voortspruit uit die vertolking van die Grondwet en regulasies/huishoudelike reglemente te ondersoek en af te handel;

11.6 Finale beslissings met betrekking tot geskille te neem;

11.7 ‘n Lopende bankrekening in die naam van die Vereniging te hê, geld te ontvang, te trek en tjeks te endosseer ten opsigte van sake van die Vereniging;

11.8 Persone wat die belange van die Vereniging dien, te betrek, in diens te neem, hul dienste te beëindig of op te skort en hulle vir enige sodanige dienste te vergoed;

11.9 Ad hoc- of subkomitees te benoem, wie se vergadering en enige optrede onder die Vereniging se Grondwet sal val;

11.10 Te verseker dat behoorlike rekeningboeke deur die sekretaris/tesourier gehou word wat minstens een keer per jaar geouditeer sal word deur ‘n ouditeur deur die Uitvoerende Bestuur benoem. ‘n Geouditeerde staat wat die finansiële stand van die Vereniging se sake weerspieël, sal tesame met die ouditeursverslag aan die Algemene Jaarvergadering voorgelê word;

11.11 Te verseker dat die inkomste van die Vereniging alleenlik ter bevordering van die Vereniging aangewend sal word. Dit sluit in vergoeding van enige werknemer of ander persoon wat diens aan die Vereniging lewer;

11.12 Enige geld te hef wat van tyd tot tyd nodig blyk;

11.13 Met ontbinding van die Vereniging, enige bestaande eiendom en/of bates aan enige ander organisasie met dieselfde of soortgelyke doelstellings as die Vereniging te skenk of oor te dra;

11.14 Alle aansoeke om lidmaatskap van die Vereniging te oorweeg en daaroor te besluit;

11.15 Lidmaatskap kragtens klousule 7 te beëindig;

11.16 Alles nodig te doen tot heil van die Vereniging.

12. FINANSIES

12.1 Alle betalings van die Vereniging sal gemaak word by wyse van tjeks wat deur die sekretaris/tesourier en een van twee bogenoemde Uitvoerende bestuurslede geteken moet word.

12.2 Die finansiële jaar van takke eindig op die laaste dag van Februarie elke jaar, en dié van die Uitvoerende bestuur op die laaste dag van Julie elke jaar.

12.3 Lede van die Uitvoerende Bestuur se reis- en verblyfkoste vir die Uitvoerende Bestuursvergaderings word deur betrokke lede se takke betaal. In gevalle waar takke as gevolg van omstandighede nie in staat is om hul verteenwoordigers se uitgawes te dra nie, kan die Uitvoerende Bestuur besluit om daarvoor in te staan, mits ‘n motivering en uiteensetting van die betrokke tak se finansies voorgelê word.

12.4 Die Uitvoerende Dagbestuur se uitgawes ten opsigte van die Uitvoerende Bestuursvergaderings sowel as die Algemene Jaarvergadering word deur die Uitvoerende bestuur uit die Nasionale Fonds betaal.

12.5 Geen wins of ander finansiële voordele sal enige ander persoon toeval en die fondse van die Vereniging sal uitsluitlik gebruik of belê word vir die doel waarvoor dit geskep is.

12.6 Die vereniging sal geen winsmakende bedrywighede beoefen nie of deel hê in enige besigheid, professie of beroep wat deur enige van sy lede bedryf word of enige finansiële steun, eiendom of voortgesette dienste en/of geriewe aan lede voorsien met die doel dat hulle besigheid, ‘n professie of beroep kan beoefen nie.

13. STREEKTAKKE

13.1 Die Uitvoerende Bestuur sal besluit wanneer daar genoeg lede van die Vereniging in ‘n betrokke gebied aktief is om die stigting van ‘n streektak te regverdig.

13.2 Die bestuur van ‘n streektak sal bestaan uit ‘n voorsitter en nie minder as drie lede nie, almal gekies deur lede van die Vereniging in daardie betrokke streek.

13.3 Die bestuur sal plaaslike reëls kan opstel wat nie teenstrydig met die Grondwet van die Vereniging is nie en sal dit vir goedkeuring aan die Uitvoerende Bestuur voorlê.

13.4 Die Bestuur sal notules van alle vergaderings en jaarlikse finansiële state aan die Uitvoerende Bestuur voorlê.

14. VERGADERINGS

14.1 Die Algemene Jaarvergadering van die Vereniging sal gehou word op ‘n plek wat deur die Jaarvergadering bepaal word, en die datums waarop dit gehou sal word, sal deur die Uitvoerende Bestuur bepaal word, op voorwaarde dat die vergadering nie later as vyf maande na die einde van die finansiële jaar gehou sal word nie. Van sodanige vergadering sal kennis gegee word en ‘n sakelys deur die sekretaris/ tesourier minstens ‘n maand voor die vergadering aan alle lede gestuur word.

14.2 Op versoek van tien of meer lede van die Vereniging kan ‘n Spesiale Algemene Vergadering byeengeroep word. Kennis daarvan, tesame met ‘n sakelys, sal binne twee maande nadat sodanige versoek ontvang is, en minstens een maand voor die vergadering, aan alle lede van die Vereniging gestuur word.

14.3 Die Uitvoerende Bestuur kan ‘n Spesiale Algemene Vergadering belê. Kennis daarvan sal gegee en ‘n sakelys aan alle lede van die Vereniging minstens twee weke voor sodanige vergadering gestuur word.

14.4 As ‘n lid per abuis nie kennis van ‘n vergadering gekry het nie, sal dit nie die geldigheid van die vergadering aantas nie.

14.5 Tien gewone volle lede sal ‘n kworum op ‘n Algemene Vergadering vorm. As daar binne ‘n kwartier nadat die vergadering moes begin het, nog nie ‘n kworum is nie, moet die vergadering, indien dit op aandrang van die lede belê is, afgelas word; in alle ander gevalle moet die vergadering vir ‘n halfuur verdaag. Die lede dan aanwesig sal daarna ‘n kworum vorm en die bevoegdheid hê om met die sakelys voort te gaan.

14.6 As die Voorsitter en die Ondervoorsitter na ‘n kwartier van die aanvangstyd van die vergadering nog nie opgedaag het nie, sal die lede aanwesig ‘n voorsitter uit eie geledere benoem om op daardie vergadering voor te sit.

14.7 Op die vergadering van die Vereniging en sy takke sal elke stemgeregtigde lid een stem hê, en persone sal nie toegelaat word om by volmag te stem nie. By die Vereniging se Algemene Jaarvergadering sal takke (net vir die verkiesing van Uitvoerende Voorsitter, -Ondervoorsitter en Sekretaris/ Tesourier) verteenwoordig word deur lede wat deur die takke self gekies word op die pro rata verhouding van een verteenwoordiger per sewe taklede. Elke verteenwoordiger so gekies, sal een stem hê.

14.8 Tensy die vergadering eenparig anders besluit, sal daar per stembrief gestem word.

14.9 Notules van die Algemene Vergaderings sal gehou word en hierdie notules sal op die daaropvolgende vergadering bekragtig word.

14.10 Voorstelle vir die wysiging van die Grondwet en mosies vir oorweging op ‘n Algemene Jaarvergadering of ‘n Spesiale Algemene Vergadering, sal in die hande van die sekretaris/tesourier of die Voorsitter wees minstens dertig dae voor die datum van die vergadering waarop dit bespreek moet word.

15. WYSIGINGS VAN DIE GRONDWET

15.1 Enige wysiging van hierdie Grondwet sal die goedkeuring van minstens tweederdes van die lede verteenwoordig op ‘n Algemene Jaarvergadering of ‘n Spesiale Vergadering wat vir die doel belê is, vereis. Enige voorstel vir die wysiging van die Grondwet moet uitgestuur word aan alle lede van die vereniging minstens twee weke voor die datum van die vergadering waarop die wysiging oorweeg sal word.

15.2 Enige wysigings aan die Grondwet sal aan die Kommissaris van Binnelandse Inkomste voorgelê word.

15.3 Hierdie Grondwet vervang enige vorige konstitusie, maar maak geensins enige besluite ongeldig wat wettiglik ooreenkomstig vorige konsitusies aangeneem is, of doen enigsins afbreek daaraan.

15.4 In geval van ‘n dispuut, sal die Afrikaanse weergawe van die Grondwet as bindend aanvaar word. Einde Grondwet soos gekonsolideer in 1993.

HUISHOUDELIKE REGLEMENT

HR 1 (art 3.3) Pro Forma Boer van die Jaar
HR 2 (art 3.3) Pro Forma Landboukundige van die Jaar
HR 3 (art 5.1) Lidmaatskapvorm
HR 4 (art 8) Ledelys
HR 5 (art 10.5) Notules van Uitvoerende
Bestuursvergaderings moet binne een maand na afloop van enige vergadering gereed wees.