Junie / June 2009

Noord soek 'n Boer en Landboukundige van die Jaar!

Dit is alweer nominasietyd vir Landbouskrywers SA Noord se 2009 Boer en Landboukundige van die Jaar.

Hierdie gesogte toekenning is vir 'n geruime tyd al 'n tradisionele inskrywing op die landboukalender. Nominasies vir Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en Noord-Wes kan ingestuur word na Magda du Toit en moet haar bereik teen 14 Augustus 2009. Haar kontakbesonderhede is magda.dutoit@monsanto.com, telefoon 011 790 8254 of 082 388 0187.

'n Duidelike beskrywing van die kandidaat se boerdery-onderneming moet ingesluit word. Maak breedvoerige melding van die kandidaat se kwalifikasies asook 'n beskrywing van sy/haar ondernemingsvernuf en die toegevoegde waarde tot georganiseerde landbou.

Enige erkenning of prestasies wat die kandidaat ontvang het, moet genoem word. Beskryf ook die kandidaat se aanpasbaarheid by veranderende omstandighede en verhoudinge ten opsigte van werkers, arbeidspraktyke, vergoedingstruktuur, huisvesting en bystand met persoonlike en gemeenskapsaangeleentede.

Wat nominasies vir Landboukundige van die Jaar betref, moet inligting oor die kandidaat se kundigheidsvlakke en beroep, kwalifikasies en sy/haar waarde vir die boer en vir landbou in die nominasie ingesluit word. Ander inligting van belang is die kandidaat se vermoë om tred te hou met die veranderende landbou-omgewing en om sy/haar navorsing/voorligting/diens daarby aan te pas. 'n Beskrywing van die erkenning wat die kandidaat op plaaslike en/of internasionale vlak geniet moet bygevoeg word.

Die inskrywingsvorms vir beide toekennings is op www.argiculturalwriterssa.co.za.

Landbouskrwyers SA Noord se toekenningsfunksie is op Vrydag 2 Oktober 2009 en die nasionale toekenningsfunksie op Vrydag, 13 November 2009.

Nuwe landbouministers hard aan die werk

Nico van Burick

'n Deelnemende demokratiese bestel - dit is waaroor dit sal gaan, is Me Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, se kort opsomming van haar nuwe rol as politieke leier van die landbousektor.

Sy het aan Nico van Burick gesê landbou is 'n sleutelportefeulje en daar sal dadelik skouer aan die wiel gesit word. Geen laksheid sal toegelaat word nie.

"Die druk vir verantwoordelike leierskap is enorm en ons sal fyn dopgehou en ge-evalueer word. Landbou gaan die hele tyd in die kollig en onder die vergrootglas wees."

Sy beskou dit as 'n groot voordeel dat sy nie 'n negatiewe gesindheid in die landbou-sektor ervaar nie.

"Ek het 'n goeie verhouding met die kommersiële landbou- sowel as die ontwikkelende landbousektor. Ek het absolute respek vir mense in die bedryf. Om dié verhoudings verder te bevorder is vir my krities belangrik vir die volgende vyf jaar."

Joemat-Pettersson sê haar enigste landbou-ervaring was tydens haar vyf jaar as LUR vir landbou in die Noord-Kaap.

"Dit was politieke ervaring en nie tegniese ervaring nie. Daarom sal ek graag na kundiges luister en met alle rolspelers wil saamwerk."

"Daar was nie genoeg rondom grondhervorming gedoen nie en dit verdien groter fokus. Sonder landbou beteken grond egter ook niks. Daarom sal die klem op samewerking tussen die twee ministeries lê. Wanneer grond aan 'n bevoordeelde van hervorming oorhandig word moet landbou daar wees om 'n lewensvatbare boerdery te help verseker. Daar kan nie toegelaat word dat plase vervalle raak of tot niet gaan nie."

Joemat-Pettersson sê daarom speel die Land Bank in ander instellings vir ontwikkelingsfinansiering ook 'n sleutelrol. Daar kan nie verwag word dat nuwe boerderye op dag een winsgewend moet wees nie en nuwe boere moet die geleentheid gebied word om die mas op te kom.

Volgens Rapport het Joemat-Patterson in haar onlangse begrotingsrede gesê dat daar onder meer planne is om die bedrywighede van verskeie fondse wat op transformasie in die landbou toegespits is, saam te voeg. Poging om die swart jeug by landbou te betrek en die opleiding en aanstelling van 'n duisend voorligtingsbeamptes is ook onder die planne genoem. Omdat ontwikkelde lande hul landbou subsidieer, is dit volgens Joemat-Patterson die Suid-Afrikaanse regering se verantwoordelikheid om die landbousektor te beskerm teen onregverdige globale mededinging terwyl laaslike produksie gestimuleer moet word. Die minister sal ook graag wil sien dat die verskillende landbou-organisasies nader aan mekaar beweeg.

"Ek was vir jare in 'n landboukiesafdeling waar ek ten nouste met boere se probleme gemoeid was," sê Dr Pieter Mulder, Adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye.

"Ek het 'n aanvoeling vir die landbou, hoewel dit steeds 'n nuwe wêreld is waarin ek baie het om te leer."

Sy enigste praktiese kontak met landbou is 10 ha se pekanneutbome wat hy by Orania het.

"Wat ek wel besef is dat landbou 'n sleutelsektor is wat reeds 'n groot rol speel en vorentoe 'n nog groter rol in die ekonomie kan speel."

Monsanto SA gee groot hupstoot aan Landbouskrywers SA

Landbouskrywers SA is in die gelukkige posisie om aan die ontvangkant te staan van moontlik een van die enkel grootste borgskappe van een maatskappy aan lede.

Monsanto SA stel met die bykomende borgskap sewe lede van Landbouskrywers SA in staat om die Internasionale Kongres van die IFAJ in Texas by te woon. Dit sluit ook 'n kort besoek aan Monsanto se fasiliteite in St Louis in. Die borgskap sluit alle kostes in.

Vir die eerste keer sal al die lede van die nasionale hoofbestuur hierdie kongres kan bywoon. Die groep bestaan uit Hugo Lochner, Nasionale Voorsitter, Magda du Toit, Nasionale Ondervoorsitter, Charl van Rooyen, Nasionale Sekretaris en die Landbouskrywers SA se verteenwoordiger op die IFAJ, Hanlie du Plessis, Nasionale Tesourier, Hans Lombard, Johan Swiegers en Willie Louw al drie lede van die noordelike streek.

Monsanto is ook vir die afgelope tien jaar een van die hoofborge van Landbouskrywers SA se Noord en Sentraal Takkeen was ook een van die sleutelborge tydens die 2003 IFAJ kongres wat in Suid-Afrika gehou is. Die maartskappy glo die opleiding van landboujoernaliste is noodsaaklik vir die bedryf en die blootstelling aan internasionale tendense by die IFAJ-kongres sal waarde toevoeg tot die lede se betrokkenheid by landbou en verantwoordelike joernalistiek.

Die groep vertrek op 27 Julie en keer op 5 Augustus terug.